Volg God en neem jou kinders saam met jou

2023-07-16
Genesis 13:12 NLV

Jesus het gesê: ‘Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink’ (Matteus 18:6 NLV). Ingesluit in hierdie woorde is ‘n sobere uitdaging aan elke ouer: Jou morele gesag hang nie van jou kennis nie, maar van jou leefstyl en jou integriteit af. Soos jou kinders groter word, is hulle minder geneig om te luister na wat jy sê en meer geneig om dit wat jy doen, te na-aap.

Waarheen lei jou voetspore dus? Onthou jy vir Abraham en Lot? Hulle het dieselfde familie, dieselfde geloof en dieselfde geleenthede in die lewe gedeel. Toe dit egter by kinders grootmaak kom, het Abraham rose en Lot onkruid gekweek. Wat het die verskil gemaak? Abraham het God gevolg terwyl Lot sy eie selfsugtige belange gevolg het. ‘…Lot [het] sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan tot by Sodom.’ Voor dat dit verby was, het Lot sy morele gesag teenoor sy familie verloor. As ouer, waar slaan jy jou tent op?

Koning Dawid het ook sy morele gesag teenoor sy familie verloor. Selfs al het God sy owerspel met Batseba vergewe en hom toegelaat om op die troon te bly, het sy sonde ‘n verskriklike tol geëis. Sy seun Amnon het sy suster Tamar verkrag. Sy ander seun, Absalom, het die troon gesteel en sy seun Salomo se vrouens het hom tot afgodery gelei. Die profeet Natan het vir hom gesê: ‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellendes oor jou bring…’ (2 Samuel 12:11 NLV).

Jy het net een kans om dit reg te doen, volg dus vir God en neem jou kinders saam met jou.

Sielskos: Rut 1:3-18; Hand 8:26-40