Wees ‘n persoon sonder beperkinge!

2023-07-09
Markus 9:23 NLV

Mense sonder beperkinge weier om dinge soos hulle is te aanvaar, omdat hulle dinge sien soos dit kan wees. In plaas daarvan om te sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie,’ staan hulle in geloof op en sê: ‘Alle dinge is moontlik vir hom wat glo.’ Mense sonder beperkinge begaan ook foute en het mislukkings. Die verskil is dat hulle in geloof tot by die krans se afgrond stap, met die wete dat een van twee dinge sal gebeur wanneer hulle daar kom. God sal of soliede grond onder hulle voete plaas, of Hy sal hulle leer om te vlieg.

Die skrywer van die boek Hebreërs beskryf sulke mense as volg: ‘Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat staan’ (Hebreërs 11:33-34 NLV). Hierdie mense was swak aan die begin, maar hulle het sterk geword. Hoe? ‘Deur te glo.’ Hulle besit die soort geloof wat struikelblokke en teenstand verontagsaam en verklaar: ‘Ek is wat God sê ek is, ek het wat God sê ek het, en ek kan doen wat God sê ek kan.’

Daar is ‘n verhaal van ‘n ou Skotse voorman wat hard gewerk het en dieselfde van sy werkers verwag het. Een dag het een van hulle gesê: ‘Jock, besef jy dat Rome nie in een dag gebou is nie?’ Glimlaggend het Jock geantwoord: ‘Ja, maar ek was nie die voorman daar nie.’ Vra God vandag om jou te help om bo jou vrese uit te styg en jou ‘n persoon sonder beperkinge te maak.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:4-42