Moenie dat jou aandag afgelei word nie

2023-07-08
Spreuke 4:25 NLV

Om sukses te behaal in dit wat God jou geroep het om te doen, moet jy die volgende doen:

1) Verwyder afleidings. Dis nie maklik nie, omdat die meeste mense honderde eposse en boodskappe elke dag kry. Jy moet dit egter doen. Hoe? Deur jouself te dissiplineer om jou prioriteite uit te oefen. Moenie die maklikste dinge eerste, of die moeilike dinge eerste, of die dringende dinge eerste doen nie. Doen die eerste dinge eerste – die aktwiteite wat vir jou die grootste opbrengs bring. Op hierdie manier minimaliseer jy afleidings.

2) Beskerm jouself teen afleidings. Een leier skryf: ‘Ek het tye nodig om sonder onderbrekings te kan dink. Ek het die kuns vervolmaak om myself nie beskikbaar te maak nie sodat ek sonder onderbrekings kan werk. Ek is egter altyd bewus van die spanning tussen my behoefte om as leier toeganklik vir mense te wees en my behoefte om myself van hulle te onttrek om te dink.’ Jesus het Homself dikwels van aktiwiteite onttrek en gebid (sien Lukas 5:16 NLV). Gevolglik was Hy altyd op die regte plek, op die regte tyd, saam met die regte mense, besig om die regte ding te doen.

Jy moet dit ook doen! As jy van nature teruggetrokke is, maak seker dat jy meer gereeld tussen mense kom. As jy altyd aan die gang is, verwyder jouself dan van tyd tot tyd sodat jy verfris kan word en weer kan fokus om dit waarvoor God jou geroep het, te bereik. ‘Kyk reguit vorentoe; bly gefokus op wat voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie. Bly weg van wat verkeerd is’ (Spreuke 4:25-27 NLV).

Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 24:36-51; Ps 122; Spr 15:10-14