Wanneer jy aangeval word (5)
2023-07-052 Kronieke 32:8 NLV
Die wedergeboorte skep ‘n geveg tussen jou ou en nuwe natuur en jy moet leer hoe om hierdie stryd te veg. Hier is nog ‘n paar Skriftuurlike strategieë om oorwinning te behaal:
1) Vul jou gedagtes met die Skrif. Dawid het gesê: ‘As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende’ (Psalm 119:92 NLV). Jou gedagtes is soos grond; dit sal enige saad wat jy plant laat groei, of dit nou goed of sleg is. Wanneer jy woorde wat deur God gespreek is plant, saai jy energie, lewe en hoop in jou gees. God se Woord is soos ‘n inenting, dit verwyder Satan se mag om jou met vrees en ongeloof te infekteer. Die Psalmdigter het gesê: ‘Die gebooie van sy God is in sy hart. Hy sal nie ‘n voet verkeerd sit nie’ (Psalm 37:31 NLV).
2) Reik uit na ander mense. ‘Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (Job 42:10 NLV). Klink dit vreemd? Dit mag dalk vreemd in die mens se koninkryk wees, maar nie in God se koninkryk nie. Jy is die oplossing vir iemand anders se probleem en wanneer jy na hulle toe uitreik, sal God na jou toe uitreik (sien Efesiërs 6:8). Probeer dit.
3) Onthou dat seisoene verander. Dawid het gesê: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Hierdie aanval sal nie vir ewig duur nie – die oggend is op pad! Mense verander en omstandighede verander. Begin dus om God te glo om dinge namens jou te verander. Hy het beloof om dit te doen en Hy sal.
Sielskos: Jer 25-27; Matt 24:1-14; Ps 102:12-17; Spr 15:3