Wanneer jy aangeval word (3)

2023-07-03
2 Korintiërs 4:8 NLV

Satan kan jou enige tyd, enige plek aanval. As jy hom wil verslaan, is hier ‘n paar beproefde Bybelse beginsels wat jy moet volg:

1) Bewaak jou gedagtes. Jy sal nooit verslaan word solank as wat jy in jou gedagtes oorwinnend is nie; dis die geboorteplek van alles wat jy doen. Satan weet dit en hy sal jou gedagtes so deurmekaar probeer maak dat jy nie op dit wat belangrik is, sal kan konsentreer nie. Moenie hom toelaat om dit te doen nie. Jesaja het gesê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).

2) Wees lief vir mense, maar vertrou op God. Lewe volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense’ (Psalm 118:8 NLV). Wanneer die Duiwel jou wil seermaak, sal hy dikwels ‘n persoon gebruik om dit te doen. Jou ‘vyand’ is enigiemand wat probeer om God se wil in jou lewe in die wiele te ry, identifiseer dus sulke mense en vermy hulle. God het ons nooit opdrag gegee om mense te vertrou nie; Hy het ons opdrag gegee om mense lief te hê – en Hom te vertrou. Verstaan die verskil, want jou oorwinning hang daarvan af.

3) Moenie tou opgooi nie. Jesus het gesê: ‘…Enigiemand wat ‘n hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koningsheerskappy van God nie’ (Lukas 9:62 NLV). Jou drome en doelwitte is enige geveg, enige prys en enige wagtydperk werd. Jou geloof is wat Satan verslaan. Onthou jy vir Josef? Elke dag van teëspoed was net nog ‘n tree na die troon toe. Hou dus aan stap en glo, want daar is oorwinning wat op jou wag!

Sielskos: Jer 18-21; Matt 23:13-22; Ps 98; Spr 14:34