Wanneer jy aangeval word (1)
2023-07-01Jesaja 59:19 NLV
Jou grootste foute gebeur dikwels in die vroeë stadium van ‘n beproewing, omdat dit jou onkant betrap. Verrassing is een van die Duiwel se gunstelingwapens. Hier is dus vier wenstrategieë wanneer jy aangeval word:
1) Moenie paniekerig raak nie. Leef volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Wees stil en weet ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Dit beteken dat God teenwoordig is, ten volle bewus van jou situasie is en dat Hy ‘n oplossing daarvoor het. Wees net sensitief en reageer op die stem van sy Gees binne-in jou (sien Johannes 16:13). Onthou, tyd is aan jou kant. Geduld is ‘n wapen wat die waarheid en beweegredes na die oppervlak bring.
2) Analiseer dit. Salomo het gesê: ‘Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan…’ (Prediker 7:14 AFR53). Soms is dit wat soos ‘n krisis lyk net gekonsentreerde informasie. Wanneer jy die tyd neem om dit te analiseer, trek jy voordeel daaruit.
3) Soek raad. ‘Sonder goeie leiding stort ‘n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV). Onkunde is jou vyand en instruksie is jou vriend. Iemand êrens weet iets wat jy nodig het om te weet; soms kan dit jou help om hierdie pynlike hoofstuk in jou lewe te oorleef en selfs sukses daaruit te behaal. Reik na hulle toe uit.
4) Verwag van God om te beweeg. ‘…Hy kom soos ‘n opgedamde vloed, wat deur die asem van die Here aangeblaas word.’ Teëspoed is dikwels die Vyand se reaksie op jou vooruitgang. Wees bly; jou hemelse Vader se oë is vandag op jou. Hy is tevrede met jou en gaan jou in oorwinning daardeur bring.
Sielskos: Jer 14-17; Matt 23:1-12; Ps 95; Spr 14:29-33