Hoe om geduld te ontwikkel (3)
2023-06-21Spreuke 17:22 NLV
Hier is nog twee dinge wat jy moet doen om geduld te ontwikkel:
1) Ontwikkel ‘n sin vir humor. Die Bybel sê: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ (Spreuke 14:30 NLV). Wetenskaplike navorsing het bewys dat mense wat lag, langer lewe. Humor los stres op. Dit is ‘n teenmiddel vir vrees. Dit is ‘n kalmeermiddel sonder enige lastige newe-effekte. Dit is ‘n skokbreker vir die slaggate van die lewe. Iemand het een keer vir president Abraham Lincoln gevra hoe hy die spanning van die Burgeroorlog hanteer het. Hy het gesê: ‘As dit nie vir lag was nie, sou ek dit nie gemaak het nie.’ Wanneer jy daarvoor kan lag, kan jy daarmee lewe. Ook, as jy leer om vir jou probleme te lag, sal jy nooit uit dinge hardloop om voor te lag nie!
2) Verdiep jou liefde. Paulus skryf: ‘Die liefde is geduldig…’ (1 Korintiërs 13:4 NLV). Dit beteken dat wanneer jy ongeduldig is, is jy besig om liefdeloos te wees. Wanneer jy vir iemand lief is, is jy oor daardie persoon se wense, nood, behoeftes en oogpunt besorg – nie net oor jou eie nie. Wanneer jy met liefde gevul is, kan amper niks jou tot woede of ongeduld uitlok nie. Aan die ander kant, wanneer jy met woede gevul is, kan amper enigiets jou uitlok. Wanneer jy onder druk is, kom dit wat binne jou is na vore. Verdiep dus jou liefde. ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra’ (Efesiërs 4:2 NLV). Wanneer jy leer om die mense wat jou irriteer lief te hê, neem jy ‘n wapen wat Satan kan gebruik, uit sy hande. Bid vandag: ‘Here, maak my meer geduldig.’
Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 20:17-28; Ps 139:13-24; Spr 13:25