Hoe om geduld te ontwikkel (2)
2023-06-20Spreuke 14:29 NLV
Geduld begin deur die manier hoe jy iets sien, te verander. Wanneer jy ongeduldig is, is jou perspektief smal. Al wat jy sien is jouself: jou behoeftes, doelwitte, skedule, begeertes en die manier wat mense jou lewe opmors. Die wortel van ongeduld is basies selfsug. Probeer om dinge uit die ander persoon se perspektief te sien. As jy sukses in jou huwelik wil behaal, leer om die lewe vanuit jou eggenoot se perspektief te sien. As jy as ouer sukses wil behaal, leer om dinge uit jou kind se perspektief te sien. As jy sukses in besigheid wil behaal, leer om dinge uit jou kliënt se perspektief te sien. As jy ‘n suksesvolle werkgewer wil wees, leer om dinge uit jou werknemer se perspektief te sien. Probeer uitvind hoekom die ander persoon voel soos hulle voel. As jy nooit irritasies en onderbrekings hanteer nie, sal jy nooit geduld ontwikkel nie.
Jy moet die waarheid dat God jou treë rig en dat vertroue nie verduidelikings verg nie, aanvaar. Die Bybel sê: ‘Die Here bepaal ‘n mens se lewe. Hoe kan ‘n mens verstaan wat met hom moet gebeur?’ (Spreuke 20:24 NLV). Geduld is ‘n teken van volwassenheid. Wanneer babas nie onmiddellik kry wat hulle wil hê nie, raak hulle ontsteld. Volwassenheid sluit die vermoë om te wag, om met vertraagde bevrediging te lewe, in. “‘n Geduldige mens het insig. Iemand wat kort van draad is, stal sy dwaasheid uit” (Spreuke 14:29 NLV). ‘n Persoon met insig en wysheid wat leer om die lewe uit ander mense (en God) se perspektief te sien, is in staat om geduldig te wees. Bid dus en vra God om jou ‘n nuwe perspektief op dinge te gee.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 20:1-16; Ps 139:7-12; Spr 13:24