Die haan kraai
2023-06-06Lukas 22:60 NLV
Die Bybel sê: ‘…Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ‘n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: ‘Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.’ En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (verse 60-62 NLV).
Voor God ‘n groot opdrag aan jou toevertrou, sal Hy Satan toelaat om jou te toets. Hoekom? Om jou swakpunte te openbaar en jou in daardie areas te versterk. God sal jou toelaat om in ‘n kleiner sfeer te misluk om jou sodoende daarvan te weerhou om in ‘n groter een te faal, waar jy jouself en ander kan seermaak. Een van die wonders van die Christelike lewe is dat Jesus puin kan neem en iets beeldskoon daaruit kan bou. Petrus het beloof om Jesus nooit te ontken nie, maar teen die tyd wat die haan gekraai het, het hy dit reeds drie keer gedoen. Herhaaldelike mislukking!
Kan jy jou daarmee vereenselwig? Jy het gesê dat jy nie jou humeur gaan verloor nie, maar jy het. Jy het gesê dat jy nie voor versoeking gaan swig nie, maar jy het. Wanneer kraai ‘n haan? Vroeg in die more. Dit beteken dat die haan die begin van ‘n splinternuwe dag aankondig. Na sy slegste nag van mislukking, het die son vir Petrus opgekom. Dit sal ook vir jou opkom.
Deur God se genade kan jy jou lewe oor begin. Jy kan vandag jou sondes bely en voortgaan om groot dinge vir die Here te doen. Petrus het uiteindelik ‘n magdom mense vir Christus gewen en die kerk gelei. Dit maak dus nie saak hoe erg jy misluk het nie, God sal jou vergewe, jou herstel en jou treë rig.
Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 15:1-14; Ps 124; Spr 12:26