Mensehandel en jy
2023-06-01Lukas 4:18 NLV
Elke dertig sekondes word ‘n kind of jong persoon ontvoer en vir seks verkoop; amper een miljoen mense elke jaar! Baie word gedwing om tot dertig of veertig ‘kliënte’ elke dag te ontvang. Kan jy jou indink wat die regerings van die wêreld sou doen as ‘n stad met een miljoen mense gevange geneem word en elke dag uitgebuit en mishandel word?
As jy dink dis erg, sal die volgende statistiek jou hart breek en jou tot jou knieë dwing: Slegs 1 persent van diegene wat vir mensehandel ontvoer word, word daaruit gered! Jy sê: ‘Wat van die ander 99 persent?’ Wanneer hulle te oud is om waarde vir hulle koppelaars te hê, of as hulle te siek word om te werk, swanger word of siektes kry, word hulle soos vullis weggegooi. Hulle is die gewondes wat met emosionele en geestelike littekens rondloop en die res van hulle lewens met die gevolge daarvan worstel.
Miskien dink jy: ‘Dis hartseer en skokkend, maar dank die Here dis nie my kinders of kleinkinders nie.’ Jy moet beslis die Here daarvoor dank! As verloste kind van God, het jy egter ‘n verantwoordelikheid om daarvoor om te gee. Jesus het gesê Hy het gekom ‘…dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (vers 18 NLV).
Dit beteken dat jy nie die probleem kan vermy nie, jy moet bewus daarvan wees en tot aksie oorgaan. Eers wanneer genoeg mense hul stemme laat hoor, begin politici optree. Laat dus jou stem hoor! Begin daaroor bid. Ondersteun bedieninge wat daarby betrokke is. Op daardie manier sal jy eendag voor God kan staan en sê: ‘Here, ek het gedoen wat ek kon!’
Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 13:47-58; Ps 82; Spr 12:18-19