Herbou jou huwelik (3)

2023-05-22
Psalm 127:1 NLV

Jy moet gewillig wees om die ander persoon te vergewe. Dit maak jou weerloos wanneer jy iemand liefhet. Wanneer jy vir iemand jou hart gee, mag hulle dit dalk breek. ‘n Vreemdeling of toevallige kennis kan iets vir jou sê wat soos water van ‘n eend se rug van jou afrol. Wanneer jou maat egter dieselfde ding vir jou sê, kan dit gevoelens van woede en wrokkigheid by jou laat opkom.

Niemand bly aan iemand anders getroud sonder dat daar vergifnis by betrokke is nie. Dink daaroor: Jou verhouding met God behels dat jy sy vergifnis nodig het, daarvoor vra en dit ontvang. Jesus het ons geleer om as volg te bid: ‘En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het.’ Dan verduidelik Hy verder: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe’ (Matteus 6:12,14 NLV).

Wanneer jy voortdurend voel dat jou maat jou as vanselfsprekend aanvaar, kan dit opbou en in ‘n argument ontplof. As jy nie vergifnis in die klein dingetjies kan betoon nie, sal dit baie moeilik wees om gedurende krisistye genade te bewys en te ontvang. Die kuns van vergifnis beteken om volmaaktheid en prestasie te laat gaan en om genade en dankbaarheid aan te gryp.

Wanneer die Bybel sê dat ‘n man sy vader en moeder (insluitend sy kultuur, agtergrond en familietaal), moet agterlaat en hom by sy vrou voeg (om ‘n nuwe kultuur, agtergrond en familietaal te ontwikkel), begin hulle hulself aan mekaar verbind en word hulle tot een liggaam verenig (sien Matteus 19:5 NLV). Hierdie verbintenis verg egter baie tyd en werk. Dit beteken ook dat jy op dit wat goed is in jou maat moet fokus en die res moet vergewe.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29