Laat God jou lei
2023-03-09Psalm 23:3 NLV
Die lewe is vol keuses, besluite en opsies. Dis ook vol mense met sterk opinies wat jou sal probeer vertel in watter rigting hulle dink jy moet gaan. As ons tyd kon terugdraai, sou amper almal van ons besluite in die verlede verander, omdat dit ons op die pad van ‘verkeerdheid’, eerder as die pad van ‘geregtigheid’, gebring het.
Skape sal na alles wat hulle instinkte aanspreek, soos ‘n bessiebos, aangetrek word, selfs al neem dit hulle van die kudde en die herder se beskermende sorg af weg. Hulle dink dat hulle weet wat die regte pad is, terwyl hulle eintlik nie ‘n idee het nie.
Vraag: Is jy besig om jou aptyte en eetlus, eerder as jou skaapwagter te volg? Jy sê: ‘Maar God het vir my ‘n brein gegee om te gebruik.’ Ja, maar jy moet dit ontwikkel. Dis beperk en sal jou net so ver neem. Die Heilige Gees wil jou graag verby daardie beperkinge neem. ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV).
Hoe lei God ons? Objektief deur sy Woord, en subjektief deur sy Gees. Soos jy sy Woord lees, hoor jy sy stem en wanneer jy rus (sien Psalm 23:2), druk Hy dit wat Hy wil hê jy moet doen, op jou hart. As jy op die verkeerde pad is, draai na God toe en Hy sal jou weer na die regte pad toe lei. Jy vra: ‘Sal God werklik met iemand soos ek praat?’ Ja: ‘…Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NVL). Laat God jou vandag lei!
Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5