Beweeg verby die raaiwerk (2)
2023-03-03Johannes 16:13 NLV
Doen altyd die volgende twee dinge: 1) Erken God se Woord as die finale gesag rakende sy wil (sien Jesaja 8:20). Die Bybel praat duidelik oor die lewe se belangrike kwessies. Elke ander bron van leiding moet daarmee saamstem. Jy het ook nie ‘n teologiese graad nodig nie; laat God net toe om deur sy Woord met jou te praat voor jy enigiemand anders se opinie opsoek.
Dis byvoorbeeld onaanvaarbaar om ‘n leuen te vertel, want God sê: ‘…Moenie lieg nie’ (Levitikus 19:11 NLV). Soortgelyk, is dit verkeerd om ‘n buite-egtelike verhouding aan te knoop, want die Bybel sê duidelik: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’ (Eksodus 20:14 NLV). Punt. Geen ander opinie is nodig wanneer God se Woord duidelik is nie.
‘n Woord van waarskuwing egter: Wanneer jy geïsoleerde Bybelverse uitkies, lei dit tot verwarring, nie duidelikheid nie. Byvoorbeeld: ‘…Alles is immers julle s’n’ (1 Korintiërs 3:21 NLV), is nie toestemming om te neem wat jy wil nie! Wat as jy egter die Bybel deursoek en nie beginsels vind om jou kwessie aan te spreek nie?
Oorweeg dan die volgende stap: 2) Erken die innerlike indrukke van die Heilige Gees. Hoe kan jy weet dat jou indrukke van die Heilige Gees af kom? Deur die wete dat jy jou wil ten op sigte van die kwessie ten volle aan God onderwerp het. Jou ‘indrukke’ moet ook nie in teenstelling met ander Bybelse beginsels wees nie. Hier is die Heilige Gees se opdrag: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid… Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Moenie haastig wees nie. As dit van God se Gees af kom, sal dit met tyd en gebed sterker en duideliker word. Indien nie, sal dit verdwyn. Wag dus in gebed!
Sielskos: Eks 16-18; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28