Moenie jou geloof afskeep nie

2022-12-09
Romeine 12:3 NLV

Jy kan nie terugsit, niks doen en glo dat God alles vir jou sal doen nie. Jy het ‘n rol om te speel. Paulus sê dat God vir elkeen van ons ‘geestelike toerusting’ gegee het. Judas sê dat jy geestelik ontwikkel deur jouself ‘…op te bou op die fondament van die allerheiligste geloof…’ (Judas vers 20 NLV). Dis in die strydperke van die lewe waar jy ontdek of jy geloof gekoester of verwaarloos het.

In die Bybelse tyd het ‘n Romeinse soldaat se skild hom van sy kop tot by sy tone beskerm. Dit was van yster gemaak, met dik lae materiaal oorgetrek, en hy het dit in water geweek voordat hy die stryd betree het. Gevolglik is die vlammende pyle van die vyand geblus sodra dit daarmee kontak gemaak het. Nou verstaan jy wat Paulus bedoel het met: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (Efesiërs 6:16 NLV).

Satan se pyle kan nie jou hart binnedring wanneer dit suiwer, deurweek met die Skrif en versterk deur geloof is nie. Dis hoekom Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:31-32 NLV). Dis jou geloof wat aangeval word! Dis jou geloof wat gevoed moet word! Dis jou geloof wat jou in die lewe se strydperke onderhou!

Jesus het vir ons gesê: ‘…Julle moet geloof hê in God’ (Markus 11:22 NLV). Dis die tyd wat jy met die Skrif en in gebed met God bestee, wat jou geloof versterk om die lewe se strydperke te oorwin.

Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10