Kom ons sorg vir mekaar

2022-11-10
Handelinge 4:34 NLV

Wanneer ons aan die kerk in die Nuwe Testament dink, is ons geneig om op hulle groei en krag te fokus. Petrus preek in Handelinge 2 en drieduisend mense word vir Christus gewen. In Handelinge 3 word ‘n verlamde man wat by die tempelpoort gebedel het, deur Petrus en Johannes se bediening genees. In Handelinge 4 lees ons die volgende: ‘Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000…’ (vers 4 NLV). Preke! Wonderwerke! Groei! Opwindende dinge.

Hier is egter ‘n deel van hulle verhaal wat jy nie moet miskyk nie: ‘Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ‘n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het’ (verse 32-37 NLV).

Ja, ons hoofprioriteit moet wees om mense vir Christus te wen en hulle te help om geestelik volwasse te word. As ons egter in die spore van die kerk in die Nuwe Testament wil volg, moet ons onthou dat ons ook geroep is om vir mekaar te sorg.

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 8:12-20; Ps 15; Spr 25:21-22