Leer om te luister
2022-11-09Jakobus 1:19 NLV
Om goeie verhoudings te bou, moet jy ‘n goeie luisteraar word. Om ‘n goeie luisteraar te wees, moet jy die volgende doen:
1) Luister sonder om in die rede te val. Selfs wanneer jy meer as die ander persoon weet, moet dit nie doen nie! Respekteer hulle genoeg om dit wat hulle sê te waardeer en luister aandagtig totdat hulle klaar is.
2) Probeer om hulle oogpunt, gevoelens, denkwyses en behoeftes in te sien. Met ander woorde, luister om te verstaan. Om goed te luister beteken om te hoor wat mense werklik dink, bedoel of voel, nie wat jy dink hulle behoort te dink, doen of voel nie. In plaas daarvan om te raai, vra beleefd: ‘Verstaan ek reg? Bedoel jy…? Voel jy….?’ Moenie aanneem nie – bevestig.
3) Moenie gevolgtrekkings maak nie. Luister sonder om te oordeel. As dit wat hulle sê nie heeltemal sin maak nie, hou aan luister. ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom’ (Spreuke 18:13 NLV). Wanneer jy meer hoor, mag dit dalk sin maak.
4) Moenie hulle op die agtervoet plaas nie. Luister sonder om te korrigeer of te verskil. Deur te sê: ‘Dis nie hoe dit gebeur het nie,’ of ‘Wat het jy verwag?’ of ‘Jy is laf en oorsensitief,’ maak ware kommunikasie dood.
5) Aanvaar hul persepsies en gevoelens as geldige uitdrukkings. Vra hulle om jou te help om op dieselfde bladsy as hulle te kom. Deur te sê: ‘Gegewe dit wat jy vir my gesê het, kan ek sien hoekom jy so sou voel,’ sal hulle gewilligheid om jou gedagtes te oorweeg en die oplossings wat jy bied te aanvaar, verhoog. As jy mense wil wen en hulle wil beïnvloed, leer om te luister.
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 8:1-11; Ps 123; Spr 25:18-20