S.H.A.P.E. (5)

2022-11-08
Romeine 12:2 NLV

Die letter E staan vir ervaring. Hoe kan jy God se wil vir jou lewe ken? Paulus antwoord: ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen…’ (vers 2 NLV). Die woord ‘omvorm’ beteken ‘om van vorm te verander.’

Hoe word ‘n diamant gevorm? Dit is die gevolg van onophoudelike druk oor ‘n lang tydperk. Jou lewenservarings sal jou lewensdoel vir jou wys. God mors nooit ‘n pyn nie! Die Psalmdigter het gesê: ‘Voor ek gely het, het ek afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord… Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:67, 71 NLV). Hoe leer ons om te doen wat reg is? Deur die pyn te ervaar wanneer ons doen wat verkeerd is. Jy sê: ‘Maar ander mense het my mishandel. Is dit ook deel van God se wil vir my lewe?’ Dit mag dalk wees. Paulus skryf: ‘…Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan’ (Filippense 1:12 DB). Dan voeg hy by: ‘…Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen… Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie. Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe… Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie’ (Filippense 1:20-21 DB).

Die agterkant van ‘n tapisserie lyk soos ‘n verstrengelde warboel drade. Dit is egter wat dit verg om ‘n prentjie van skoonheid, orde en waarde te produseer. Kry jy die idee? Ondersoek weer jou lewenservarings.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:45-53; Ps 30; Spr 25:13-17