S.H.A.P.E. (4)

2022-11-07
Hebreërs 13:20-21 NLV

Die letter P staan vir persoonlikheid. Voor ‘n maatskappy ‘n leier aanstel, doen hulle dikwels ‘n persoonlikheidsprofiel om sy of haar swak- en sterkpunte te identifiseer. Vraag: Is jy deernisvol teenoor ander mense, of kompeterend? Is jy ‘n harddrywende tipe A-persoonlikheid, of het jy ‘n meer koesterende temperament? Die slegste ding wat jy kan doen is om iemand anders se tipe persoonlikheid te beny en te sê: ‘Ek wens ek was eerder soos hulle.’ Dis soos om vir God te sê: ‘U het ‘n fout gemaak toe U my gemaak het.’ God sal jou help om jou optrede te verander en jou karakter te versterk, maar jy kan bid tot jy blou is in die gesig, Hy sal nie jou persoonlikheid verander nie. Hy sal jou wel help om dit te identifiseer en ten volle te benut.

Die ou gesegde: ‘Hulle is voëls van eenderse vere,’ is waar. Arende wil nie saam met eende uithang nie. Hulle wil nie op die plaaswerf rondloop of in die dammetjie swem nie. Hulle potensiaal maak hulle ongeduldig met diegene wat nie kan sweef nie. Arende is alleenlopers. Eende, aan die ander kant, is spanspelers. Hulle vlieg duisende myle van Kanada na Meksiko in ‘n perfekte V formasie sonder om rang te breek. Hulle respekteer mekaar en sorg vir mekaar.

God het vir jou die regte persoonlikheid gegee om sy plan vir jou lewe te vervul. In plaas daarvan om jouself dus af te kraak of te wens dat jy ‘n ander temperament gehad het, sê saam met die Psalmdigter: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!’ (Psalm 139:13-14 NLV).

Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:33-44; Ps 86; Spr 25:8-12