S.H.A.P.E. (3)

2022-11-06
Psalm 40:9 NLV

Die letter A staan vir ‘abilities’ of vaardighede. Die Bybel sê: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV).

Wat is jou dominante gawe? Jy sê: ‘Ek dink nie ek het enige gawes nie.’ Niemand is sonder ‘n gawe gebore nie! Jou gawe mag dalk onontdek, onontwikkeld, ongebruik, ondergebruik of selfs misbruik wees, maar jy het ‘n gawe. Daar is niks so kragtig as ‘n idee wat op die regte tyd by mens opkom nie. Wanneer jy die regte geleentheid saam met die regte gawe op die regte tyd sit, kan die resultate letterlik die verstand te bowe gaan.

Dit mag dalk voel of jy net probeer oorleef wanneer daar skielik ‘n krisis opduik, ‘n situasie ontstaan, of ‘n deur van geleentheid oopgaan en jy vermoëns ontdek wat vir jare dormant in jou gelê het. Vandag mag jy dalk voel of jy in ‘n situasie opgesluit is waaruit jy nie jou weg kan vind nie, maar God sal vir jou ‘n uitweg gee (sien 1 Korintiërs 10:13).

Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego was Jode wat as slawe na Babel geneem is. Praat van ‘n situasie sonder enige uitkoms! Die Bybel sê egter: ‘God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid… [Die koning] het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk’ (Daniël 1:17,20 NLV).

Beteken dit dat jy net moet rondsit en wag vir sukses om in jou skoot te val? Nee, geleenthede wag vir diegene wat die deur oopmaak en daarvoor gaan soek.

Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11