Ontwikkel vreugde (1)
2022-08-24Psalm 28:7 NLV
Vreugde is soos ‘n spier; hoe meer jy dit ontwikkel, hoe sterker word dit. Hier is twee oefeninge om jou te help om jou innerlike vreugde te ontwikkel:
1) Probeer om meer dankbaar te wees. ‘Wees in alle omstandighede dankbaar…’ (1 Tessalonisense 5:18 NLV). Let op dat dit nie sê dat jy vir alle omstandighede moet dankbaar wees nie, maar dat jy in hulle moet dankbaar wees. Hans Seyle, die vader van moderne studies oor stres, sê dat dankbaarheid meer emosionele energie as enige ander houding produseer. Kyk dus uit vir meer maniere om dankbaarheid te betoon. Stuur ‘n e-pos of maak ‘n oproep na iemand om hulle te vertel hoe baie hulle in jou lewe beteken. Onthou ook om dankbaarheid aan God te betoon. Die Psalmdigter het gesê: ‘…Daarom dank ek Hom met my lied’ (Psalm 28:7 NLV). As jy nie van nature ‘n vreugdevolle persoon is nie, begin om God te lofprys en sien hoe jou houding verander.
2) Kyk uit vir geleenthede om te gee. ‘…Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang’ (Handelinge 20:35 NLV). Die Bybel sê: ‘…God het die blymoedige gewer lief’ (2 Korintiërs 9:7 NLV). Hoekom? Omdat jy die meeste soos God is wanneer jy gee. Onthou, Hy gee nie teësinnig nie. Dit wat jy gee bepaal inderwaarheid hoeveel jy van God ontvang! Die Bybel sê dat wanneer jy Hom die eerste tiende van jou inkomste gee, sal Hy ‘…voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (Maleagi (3:10). Jy kan nie meer gee as wat God vir jou sal gee nie. Soos die ou boer gesê het: ‘Ek skep dit in God se stoorkamer in en Hy skep dit in myne in – God se skopgraaf is net baie groter as myne.’
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 7:14-23; Ps 119:113-120; Spr 20:25; Pred 5:4-6