Wag op die Here!

2022-06-28
Psalm 27:14 AFR53

Wanneer ons ongeduldig word en reageer sonder om te dink, kan ons skade aan onsself en ander berokken. Soms wanneer ons bid en God nie vinnig genoeg na ons sin reageer nie, besluit ons om reg in eie hande te neem en dinge raak dan gevolglik erger. Wanneer God vir jou sê om te wag, sê Hy in wese: ‘Vertrou My met die tydsberekening, die maniere en middele, en jy sal ‘n beter resultaat kry.’ Dawid het geskryf: ‘Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!’ (vers 14 AFR53).

Dit kan moeilik wees om op die Here te wag. Dis baie makliker om in die hitte van die oomblik jou kalmte te verloor. Stop en dink terug. Hoe het die haastige besluite in die verlede, waaroor jy nie gebid het nie, uitgedraai? Dink jy dat hierdie situasie anders sal uitdraai? Nee, nie sommer nie! Wat wil jy hê? Tydelike verligting of ‘n permanente oplossing?

Hoe meer haas hoe minder spoed. Wanneer jy haastig optree, doen jy dinge waaroor jy later spyt is en verskoning moet maak, of nog erger, moet regverdig! Impulsiwiteit het koning Saul in ernstige moeilikheid gebring. In plaas daarvan om te wag vir die profeet Samuel om op te daag en vir die priesters om ‘n vredesoffer aan God te bring om sodoende hulle oorwinning oor die Filistyne te verseker, het Saul ongeduldig geword, wederregtelik die rol van ‘n priester ingeneem en self die offer gebring. Toe Samuel hom vra hoekom hy dit gedoen het, het hy geantwoord: ‘…Ek het… verplig gevoel…’ (1 Samuel 13:12 NLV). Die resultaat? Samuel het vir Saul gesê: ‘…Dit was dwaas van jou!… nou sal jou koningskap nie voortduur nie…’ (vers 13-14 NLV). Wag dus op die Here.

Sielskos: Jer 1-3; Matt 22:1-14; Ps 21; Spr 14:17-20