Die goddelike kuns om te laat gaan

2022-06-17
Hebreërs 11:17 NLV

In Genesis 12, het God vir Abraham gesê om sy land, sy familie en sy sekuriteit te verlaat. Abraham het op die krag van ‘n belofte op ‘n onbekende pad na ‘n onbekende bestemming gereis. Sonder om te aarsel, het die vyf-en-sewentig-jaar oue patriarg ‘…verhuis soos die Here hom beveel het…’ (Genesis 12:4 NLV). Vyf-en-twintig jaar later is Isak gebore; die wonderwerkseun wat God se belofte sou vervul dat Abraham se nageslag: ‘…die draer van seën vir al die nasies op die aarde [sal wees]. Ek sal dit doen omdat Abraham na my geluister het en gehoorsaam was…’ (Genesis 26:4-5 NLV).

Dan maak God ‘n hartverskeurende bevel: ‘Neem jou seun… ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer…’ (Genesis 22:2 NLV). In gehoorsaamheid aan God se Woord, het Abraham: ‘Die volgende oggend… vroeg opgestaan… en ook sy seun Isak geneem om saam te gaan…’ (vers 3 NLV). God se beloofde seën het van Abraham se gewilligheid om dit waarvoor hy die liefste was te laat gaan, afgehang. Dit sou natuurlik en verstaanbaar gewees het indien Abraham besluit het om dit nie te doen nie, maar dit sou die beloofde seën geblokkeer het.

Waaraan klou jy vas wat God se seën in jou lewe blokkeer? Is dit jou kinders, vriendskappe, reputasie, mag, besittings, gemak of gewoontes? Abraham se gewilligheid om Isak te offer was die hoogste daad van geloof. Hoe kon hy dit doen? ‘Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek…’ (Hebreërs 11:19 NLV). Abraham het geglo dat met God, beteken om te laat gaan nooit dat jy verloor nie, maar dat jy iets beters terugkry. Jy sal ook!

Sielskos: 2 Kon 10-12; Matt 18:21-35; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19