Jy moet jou kinders daarvan vertel
2022-06-11Psalm 48:14 NLV
Hier is ‘n vers wat mens ontnugter: ‘…Ná hulle het daar ‘n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie…’ (Rigters 2:10 NLV). Hoe het dit gebeur? Hulle ouers het hulle nie van die Here vertel nie. Lees die volgende drie Skrifgedeeltes noukeurig en met gebed: 1) ‘Kyk na die versterkte mure en bekyk al die vestings, sodat jy dit kan beskryf aan die geslagte ná jou. Want dié God is ons God vir altyd…’ (Psalm 48:14-15 NLV). 2) ‘verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die Here, van sy krag en van sy wonderdade’ (Psalm 78:4 NLV). 3) ‘Geslag na geslag sal u dade prys en van u magtige werke vertel’ (Psalm 145:4 NLV).
Jy sê: ‘Ons het ‘n beter regering en ‘n beter skoolstelsel nodig.’ Miskien, maar regerings en skole maak nie kinders groot nie, ouers doen. Jy is as ouer geroep om jou eie huis te regeer en jou kinders in die weë van die Here op te lei. Begin dus so gou as moontlik om jou kinders diep geestelike wortels te gee. Gaan hulle rebelleer? Moontlik; die Verlore Seun het uit ‘n goeie huis gekom en hy het gerebelleer. Hy het egter teruggekom, omdat hy herinneringe en waardes gehad het om na terug te keer.
Toe hy die einde van sy lewe nader, het Josua die nasie se leiers bymekaar geroep en gesê: ‘Julle het gesien wat die Here julle God alles ter wille van julle… gedoen het…’ (Josua 23:3 NLV). Toe het hy vir hulle opdrag gegee om hulle kinders daarvan te vertel. Hulle het dit egter nie gedoen nie en hulle seuns en dogters het met ander nasies getrou en hulle sondige leefstyle aangeneem. Moenie toelaat dat dit met jou kinders gebeur nie.
Sielskos: Op 15-18; Matt 16:13-28; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6