Ken jou snellers
2022-06-03Psalm 37:8 NLV
‘n Geweer kan jou óf beskerm óf vernietig; dit hang alles af van wie die sneller trek. Woede werk op dieselfde manier; dis hoekom dit wys is om te weet wat jou snellers is.
Sommige van die algemeenste snellers deesdae is: 1) Wanneer jou regte geskend word. Is dit altyd sleg om kwaad te word? Nee, soms is die probleem wat jou die kwaadste maak die een waarvoor God jou geroep het om te help oplos. Die wêreld is ‘n beter plek as gevolg van die mans en vrouens wat hulle lewens daaraan toegewy het om siekte, armoede, korrupsie en onreg te beveg. Dis wat Jesus gedoen het toe Hy die geldwisselaars uit die tempel gejaag het. Die Bybel sê: ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie… en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV).
2) Wanneer jy gefrustreerd is omdat dinge nie vir jou regloop nie. ‘n Onlangse nuusberig het vertel van ‘n man wat op sy bergfiets gaan jag het. Toe sy fiets kilometers van die huis af breek, het hy kwaad geword en dit aan flarde geskiet. Dit maak nie sin nie! Soos een skrywer opmerk: ‘Woede is ‘n wind wat die lamp van jou rasionele gedagtes doodblaas.’
3) Wanneer jy onder konstante stres is. Paulus skryf: ‘…ek [sê] aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie…’ (Romeine 12:3 NLV). Deur te veel aktiwiteite in te min tyd in te pak, gaan dit stres veroorsaak. Dan voel jy skuldig en dink dat jy nie geestelik genoeg is nie.
In die lewe is daar altyd uitdagings, berei jouself dus daarvoor voor en laat tyd vir die onverwagse toe. ‘Moenie kwaad word nie… dit lei net tot jou nadeel.’
Sielskos: 1 Kon 14-15; Matt 14:1-12; Ps 117; Spr 12:20-22