Glo in jou gebede
2022-04-281 Johannes 5:14 NLV
‘n Leier het hierdie woorde geskryf: ‘My pa was ‘n besige man. Om hom by die werk op te spoor moes jy deur die skakelbord gaan, tensy jy sy private nommer geken het. Hy het dit net vir ‘n paar besigheidsvennote gegee, maar al sy kinders het die nommer geken. Maak nie saak hoe besig hy was nie, ons kon hom enige tyd op sy direkte lyn bel. My kinders ken ook my nommer en hulle weet dat hulle my enige tyd oor enigiets kan bel. Daar is geen stem wat soeter as my kinders se stemme klink nie. Wanneer een van hulle sê: ‘Hallo, Pappa,’ maak dit nie saak waarmee ek besig is nie. Hulle is my absolute prioriteit. Maal dit nou eksponensieel. Niks klink soeter vir God as jou stem wat sê: ‘Hallo, Vader,’ nie. Daar is niks wat tans in die kosmos aan die gang is wat Hom daarvan sal weerhou om sy volle aandag aan jou gesprek of versoek te gee nie.’
Dit beteken dat wanneer God jou Vader is, kan jy Hom enige tyd bel. Hy is net ‘n gebed weg! Jesus het gesê: ‘Hou aan met vra, en God sal vir julle gee… Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie… As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’ (Matteus 7:7, 9-11 NLV).
‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister… weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). Glo vandag in jou gebede.
Sielskos: Dan 8-10; Matt 3:1-17; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21