Hoe om nie tot ‘n val te kom nie

2022-04-26
Psalm 15:5 NLV

Ons lees in die Bybel: ‘As jy aanhou om vir iemand te sê hoe hy moet lewe, maar hy bly hardkoppig, dan sal dit gou sleg gaan met hom, en niemand sal hom kan help nie’ (Spreuke 29:1 ABA). Koning Salomo is bekend daarvoor dat hy die wysste man is wat nog ooit gelewe het. Hy het hierdie woorde geskryf, maar hartseer genoeg nie self daaraan gehoor gegee nie en tot ‘n val gekom. As dit met Salomo kon gebeur, is niemand van ons immuun daarteen nie!

Karakter het deesdae ‘n deurslaggewende saak geword, omdat soveel politici, sakelui en godsdienstige leiers in die openbaar tot ‘n val kom. Jy tree nie in ‘n vakuum as leier op nie. Jy beïnvloed baie mense en wanneer jy val, voel hulle die reperkussies daarvan.

Hoe kan jy dus daarteen waak om nie te val nie? Deur nie gawes bo karakter te stel nie. Ons het deesdae ‘n ongesonde tendens om iemand se gawes te vier en te beloon en hulle karakter oor te sien; beide moet egter ontwikkel word. Karakter is die somtotaal van jou daaglikse gewoontes.

Dawid gee ons agt karaktereienskappe in Psalm 15 om voor uit te kyk in ‘n leier wat ons respek waardig is: 1) Hulle het integriteit. 2) Hulle neem nie deel aan skinderpraatjies nie. 3) Hulle maak nie ander seer nie. 4) Hulle wys verkeerde dinge uit. 5) Hulle eer diegene wat in die waarheid wandel. 6) Hulle kom hulle beloftes na, selfs wanneer dit hulle persoonlik kos. 7) Hulle is nie ten koste van ander gierig vir wins nie. 8) Hulle is sterk en stabiel. Dawid sluit sy psalm af deur te sê dat: ‘Só ‘n mens sal vir altyd stewig staan.’ Dis hoe jy nie tot ‘n val kom nie!

Sielskos: Dan 3-4; Matt 2:1-12; Ps 7:1-9; Spr 10:16