Gebed kan groot dinge laat gebeur!

2022-04-22
Jakobus 5:16 NLV

Terwyl hy op vakansie in Engeland was, het D.L. Moody ‘n kerk in Londen besoek wat geestelik dood was. Die pastoor het hom herken en gevra om die oggend- en aanddiens waar te neem. Teësinnig het Moody ingestem. Na die oggenddiens het hy vir ‘n vriend vertel dat die gemeente so stug was dat hy skaars sy preek kon klaarmaak. Hy het gewens dat hy nooit sy vakansieplanne onderbreek het nie en het die heel middag opgesien na die aand se preek.

Agter die skerms, het iets egter gebeur waarvan Moody niks geweet het nie. Na die oggenddiens het ‘n bejaarde dame haar invalide suster vir middagete ontmoet en haar van Moody se opkomende aanddiens vertel. Haar suster het uitgeroep: ‘Ek bid al lank dat God vir Moody Engeland toe moet stuur! Sit weg die middagete, Sus. Ons sal die middag daaraan bestee om vir vanaand se erediens te vas en te bid.’

Toe Moody die preekstoel daardie aand bestyg, het ‘n ‘elektriese’ gevoel van God se teenwoordigheid die kerkruim gevul. Moody se preek was begeesterd en toe hy ‘n uitnodiging uitstuur vir mense om Christus te volg, het vyfhonderd mense gereageer. Hy het gedink hulle het hom dalk misverstaan, dus het Moody hulle gevra om weer te sit terwyl hy weer die evangelie verduidelik het. Maar toe hy ‘n tweede uitnodiging rig, het dieselfde vyfhonderd opgestaan om Christus te ontvang.

Wat het daartoe bygedra? Twee bejaarde dames wat besef het dat hulle kerk die vuur van God se Gees desperaat nodig gehad het. Hulle het God se belofte geglo: ‘…Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.’ Jou gebede kan die vuur van God aansteek en groot dinge laat gebeur.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:50-53; Ps 103:1-12; Spr 10:13