Word ‘n gewer
2022-03-242 Korintiërs 9:11 NLV
Die Bybel sê: ‘…God het die blymoedige gewer lief. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk… In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (verse 8-9, 11 NLV).
Sommige mense weier om te gee omdat hulle gierig is, maar in die meeste gevalle is dit nie so nie. Die waarheid is dat ons bang is dat indien ons nie na ons eie belange omsien nie, mag daar dalk glad nie na hulle omgesien word nie. Hierdie tipe denkwyse maak egter nie sin nie. Dis soos die boer wat bang is om sy volgende oes te plant, omdat hy bang is om sy sade te laat gaan.
God sê dat die eerste tiende van ons inkomste aan Hom behoort (sien Maleagi 3:10). Is dit omdat Hy arm is en dit nodig het? Nee! Hy wil hê dat jy in sy koninkryk moet saai sodat: 1) Sy werk en sy wil hier op aarde gedoen kan word, en 2) jy ‘n oes sal hê wanneer jy dit nodig het. Jesus het gesê: ‘…maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Jy sal ‘In elke opsig… ryk gemaak word…’ wanneer jy ‘n kanaal vir God se koninkryk word. Wanneer jy jou finansies vanuit ‘n Bybelse perspektief beskou, moet jy nie bevrees wees dat jy te veel weggee nie, maar dat jy te min saai!
Sielskos: Job 21-23; Luk 19:28-40; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21