Erken God se soewereiniteit
2022-03-17Romeine 12:1 ABA
Paulus skryf: ‘Vriende, God is baie goed vir julle… Julle moet self offers wees vir Hom… Dan sal julle dinge doen wat God wil hê julle moet doen, goeie dinge, dinge waarvan Hy hou, dinge wat heeltemal reg is’ (verse 1-2 ABA). Daar is twee maniere om God se soewereiniteit te verstaan: a) deur sy inisiatief, en b) deur ons reaksie.
In wese sê Paulus die volgende: 1) Weerstaan die druk van ‘n wêreldsisteem wat jou in die verkeerde rigting trek. 2) Vernuwe jou gedagtes elke dag deur gebed en deur God se Woord te lees. 3) Herken sy wil vir jou lewe en lewe daarvolgens. Paulus hou egter nie daar op nie. Hy skryf: ‘Julle moet waarlik lief wees vir mekaar. Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen. Julle behoort aan Christus en aan mekaar, daarom moet julle lief wees vir mekaar. Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer… Wanneer julle swaarkry, dan moet julle geduldig wees. Julle moet aanhou bid. Party mense wat ook aan die Here behoort, het baie min goed. Julle moet van julle goed vir hulle gee. Julle moet vriendelik wees met vreemdelinge. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle vir die Here vra om goed te wees vir hulle … Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen… Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense’ (verse 9-18 ABA).
God se soewereiniteit stel ons nie van persoonlike verantwoordelikheid vry nie. Dit beteken nie dat ons belangstelling in aktuele sake of ingeligte besluite moet verloor nie. God verwag steeds van ons om na uitnemendheid te strewe en besorg te wees oor ‘n verlore wêreld.
Sielskos: Job 1-4; Luk 17:20-37; Ps 11; Spr 8:4-5