Mense met ‘n verlede (2)

2022-03-15
Lukas 13:12 NLV

Ons weet nie hoe lank dit hierdie vrou geneem het om vorentoe te kom nadat Jesus haar geroep het nie. Gestremde persone beweeg nie so vinnig soos ander nie. Daar is twee belangrike lesse in haar verhaal vir jou.

1) Soms sal jy nie so vinnig soos ander groei en volwasse word nie, omdat jy al vir ‘n lang tyd met ‘n aftakelende probleem worstel. Wat maklik vir ander mense lyk, kan baie moeilik vir jou wees. Daar is egter goeie nuus: Jesus sal vir jou wag en Hy sal saam met jou werk totdat jy jou probleem oorkom.

2) Jou getuienis sal uit die toetse wat jy deurgemaak het, kom. Maak nie saak waardeur jy al is nie, vandag roep God jou. Hy sê: ‘Staan op! Jy kan My nader.’ Ongeag wat jy gedoen het of watter tipe misbruik jy gely het, Hy roep jou. Jy mag dalk dink dat jou geheim erger as enigiemand anders s’n is. Wees gerus dat God reeds alles weet. En sy belofte is dit: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Soos ‘n beeldhouers iets pragtigs uit ‘n stuk rots te voorskyn kan bring, so kan God jou gemors in ‘n boodskap van hoop vir ander mense verander.

Die rede hoekom Satan jou aanval, is omdat jy iets waardevols het om by te dra. Die vrou se verhaal eindig met hierdie woorde: ‘…en al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het’ (Lukas 13:17 NLV). God se plan is dat ander mense na jou lewe kyk en sê: ‘Iets het met jou gebeur; jy is nie meer dieselfde persoon nie!’

Sielskos: Est 5-10; Luk 17:1-10; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27