Mense met ‘n verlede (1)
2022-03-14Lukas 13:12 NLV
Daar was ‘n vrou ‘…wat deur ‘n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: ‘Vrou, jy is van jou kwaal genees!’ Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy nie God geloof en gedank nie!’ (verse 11-13 NLV). Die vrou kon nie reg loop nie omdat sy vir agtien jaar lank deur ‘n bose gees kromgetrek is. Dis ‘n lang tyd om met iets te worstel. Gedurende daardie tyd het sy kerk toe gegaan en geen hulp ontvang nie. Toe het Jesus haar vorentoe geroep. Hoekom het Hy haar nie net daar waar sy gesit het, genees nie?
Hier is twee redes daarvoor: 1) God wil hê ons moet geloof uitoefen en op sy Woord reageer. Wanneer jy vir ‘n lang tyd met ‘n onoplosbare probleem lewe, begin jy dink: ‘Dit sal nooit verander nie.’ Voor God dus jou omstandighede verander, verander Hy jou denkwyse en stel jou in staat om die moontlikhede te sien. Dit word ‘geloof’ genoem. Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Vandag wil God sien hoe jy na Hom toe beweeg.
2) God wil hê dat ons in ons eie bevryding moet belê. Wanneer jy in iets belê het, waardeer jy dit en beskerm jy dit. Op hierdie manier, wanneer Satan die probleem probeer terugbring, kan jy sê: ‘Nee, ek neem dit nie aan nie. Dis nie meer wie ek is nie. Ek is ‘n nuwe skepping in Christus.’
Sielskos: Est 1-4; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-27