Direk na die dood – glorie!

2022-03-10
Johannes 11:26 NLV

By die graf van sy vriend Lasarus, het Jesus vir sy hartseer susters twee allerbelangrike dinge gesê: 1) ‘…Jou broer sal weer opstaan’ (Johannes 11:23 NLV). 2) ‘Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit…?’ (vers 26 NLV).

Wat gaan jou verder as die dood tot in jou hemelse tuiste bring? ‘n Goeie karakter? Om vir liefdadigheid te gee? Om kerk toe te gaan? Nee. Alhoewel al hierdie dinge prysenswaardig is, kan jy net deur jou vertroue in Christus te plaas, die versekering van die opstanding en ewige lewe hê. Jesus het die dood en die graf vir jou oorwin.

Jy mag dalk vandag hierdie woorde met trane van verlies en hartseer lees. Miskien het jy jou maat van baie jare verloor, of jou kind in ‘n tragiese ongeluk, of ‘n geliefde aan ‘n gevreesde siekte. Jesus verstaan jou smart soos niemand anders kan nie. Hy is in voeling met ons hartseer en smart (sien Hebreërs 4:15). Of miskien voel jy of die dood naby is.

As jy nog nie jou vertroue in Christus geplaas het nie, moet jy dadelik daarvan werk maak. Moenie vir ‘n meer gepaste tyd wag nie. Doen dit vandag en jy sal gered word; dit beteken dat wanneer jy jou laaste asem uitblaas, sal jy van die dood na die hemelse lewe toe oorgaan.

Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, is daar geen rede om dit wat aan die anderkant van die graf lê, te vrees nie. Hy is reeds daar en Hy het vir jou ‘n plek gereedgemaak. Dis daar! Onverklaarbare, ewige vreugde sal danksy Jesus vir ewig aan jou behoort. Jy kan saam met Paulus uitroep: ‘O dood, waar is jou oorwinning? Dood, wat het van jou angel geword?’ (1 Korintiërs 15:55 NLV). Dink daaroor: Direk na die dood – is daar glorie!

Sielskos: Eks 33-35; Luk 15:1-10; Ps 112; Spr 7:6-9