Pas jou visie aan

2022-02-24
Jesaja 6:5 NLV

Voor God die profeet Jesaja tot ‘n leierskapsposisie geroep het, het Hy eers sy visie aangepas. Ongekorrigeerde visies lei tot ‘n skewe perspektief, swak oordeel en vermorste inspanning. Israel se konstante rebellie was besig om hulle in gevaar by God te stel en hulle het ‘n leier met ‘n duidelike visie nodig gehad. Dus, die eerste ding wat God gedoen het, was om vir Jesaja ‘n visie van sy glorie en heerlikheid te wys. Sonder hierdie lewensveranderende ontmoeting met God, sou hy nooit sterk genoeg gewees het om sy roeping te voltooi nie.

Dieselfde is op jou van toepassing. Dit waarvoor God jou roep, sal meer as ‘n paar basiese vaardighede verg. Jy sal ‘n visie van sy heerlikheid en onbeperkte krag nodig hê om jou gerus te stel dat Hy meer as voldoende vir die uitdaging is! (Sien Efesiërs 3:20).

Die tweede ding wat God gedoen het, was om Jesaja se visie van homself aan te pas. Wanneer jou begrip van God aangepas is, is jy gereed om jou siening van jouself aan te pas – en nie voor dit nie! Jesaja het uitgeroep: ‘…ek is ‘n sondige mens, tussen ander sondige mense…’ (Jesaja 6:5 NLV). Jesaja het besef dat hy nie beter was as die mense wat hy geroep is om na uit te reik nie. Totdat jy nie jouself realisties, eerlik en nederig in verhouding met God en ander sien nie, sal jou missie nie slaag nie (sien Romeine 12:3).

Die derde ding wat God gedoen het, was om op Jesaja se nederigheid te reageer. ‘n Engel het sy lippe met God se suiwerende vuur aangeraak en gesê: ‘…Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe’ (Jesaja 6:7 NLV). God roep nie perfekte leiers nie. Hy roep nederige, eerlike, vergewensgesinde leiers en kroon hulle pogings met sukses, ongeag die omstandighede.

Sielskos: 1 Tess 1-5; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8