Moenie oordryf nie

2022-02-16
Spreuke 8:9 NLV

Koning Salomo het geskryf: ‘…Elke woord uit my mond is opreg. Ek praat die volle waarheid. Vir bedrog het ek nie tyd nie. Alles wat ek sê, is reg. Daar is niks daarin wat krom of verdraai is nie. Hulle wat insig het, weet dat ek reguit praat…’ (verse 6-9 NLV).

Ons kleur gewoonlik die waarheid bietjie in om twee dinge te kry: die aandag en die goedkeuring van die luisteraar. Oor tyd ontdek mense egter jou geneigdheid om die waarheid te strek en verloor jy jou geloofwaardigheid by hulle. Omvattende verklarings soos: ‘Almal doen dit,’ of ‘Jy doen nooit,’ of ‘Jy doen altyd,’ veroorsaak dat mense jou met ‘n greintjie sout neem en jou uiteindelik as onbetroubaar ag.

Dis in die haak om iets met entoesiasme te sê, maar vermy oordrywing. Bly by die feite en weerstaan die drang om die middelpunt van aandag te wees deur hierdie vorm van leuens te beoefen. Josef se broers was wrokkig oor die guns van God wat op sy lewe was. Dus het hulle hom in ‘n put gegooi, sy kleed in bloed gedoop en dit toe huis toe geneem en vir hulle bejaarde vader gewys. Hulle het nie ‘n woord gesê nie. Hulle het slegs toegelaat dat die ou man tot die gevolgtrekking kom dat sy seun deur ‘n roofdier verskeur is. Wat nog erger is, is dat hulle hom toegelaat het om vir jare met daardie wrede leuen saam te leef.

Openbaring 22:15 sê: ‘Al die onreines bly buite – die towenaars, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en beoefen’ (NLV). Tensy dit die geselskap is waarmee jy jouself wil ophou, moet jy die hele waarheid praat. Maak vandag die volgende jou gebed: ‘Here, red my van lippe wat lieg, en van ‘n tong wat mislei’ (Psalm 120:2 NLV).

Sielskos: Jes 38-41; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27