Ons het mekaar nodig
2021-11-03Romeine 1:12 NLV
Volgende keer wat jy in die bos stap, stop en dink wat onder jou voete aan die gang is. Soos die wortels van die bome aan mekaar konnekteer, vorm hulle ‘n ondersteuningstelsel. Een het toegang tot water, ‘n ander een tot voedingstowwe en nog ‘n ander een tot sonlig. Nie een enkele boom het alles nie, maar saam kan hulle groei, floreer en sterk teen die storms van die lewe staan. ‘…Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op’ (EfesiĆ«rs 4:15-16 NLV).
Sommige van ons onafhanklike tipes sukkel met hierdie konsep. Ons wil alleen vlieg – tot ons neerstort – en dan besef ons dat ons ‘n behoefte aan die volgende het: 1) Bemoediging. Selfs Paulus het bemoediging nodig gehad: ‘Soos jy weet, het al die Christene… my in die steek gelaat… Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie. Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het’ (2 Timoteus 1:15-17 NLV).
2) Simpatie. ‘…Julle moet regtig jammer wees vir ander mense…’ (Kolossense 3:12 ABA). Ons almal het nodig dat ander ons verstaan en ons gevoelens bekragtig. Soms is ons egter so haastig om mense ‘reg te ruk,’ dat ons nie tyd het om met hulle te simpatiseer nie.
3) Genade. ‘…Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV). Jy sal nooit gevra word om meer genade aan iemand te bewys, as wat God reeds aan jou bewys het nie.
Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 25:1-7