Wanneer dit verstandig is om ‘n kompromie aan te gaan
2021-09-271 Korintiërs 9:22 DB
Paulus sou nie ‘n duim oor Bybelse waarhede toegee nie, maar wanneer dit by gebruike, tradisies en mense se voorkeure gekom het, het hy geweier om daaroor te baklei. Sommige van die Christene in Korinte het byvoorbeeld gedink dat dit sonde was om sekere soorte vleis te eet, omdat daardie vleis aan afgode geoffer is.
Het Paulus dus verklaar: ‘Ek gaan nie toelaat dat jy jou onskriftuurlike oortuigings op my afdwing nie’? Nee. Hy het geskryf: ‘…Party is daaraan gewoond om te dink ‘n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas. Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as jy nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. Maar wees versigtig dat jou vrymoedigheid om alles te eet nie jou medegelowiges met ‘n sensitiewe gewete in hulle geloof laat struikel nie’ (1 Korintiërs 8:7-9 NLV). Dan onderstreep hy dit deur te sê: ‘… Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen’ (1 Korintiërs 9:22 DB).
God het ons nie geroep om teologiese argumente te wen nie; Hy het ons geroep om mense vir Christus te wen. Wees dus genadig teenoor diegene wat nie soos jy dink, soos jy aantrek, of oor dieselfde dinge omgee waaroor jy omgee nie. Wees genadig teenoor diegene wie se aanbiddingstyl en fyner teologiese uitgangspunte van joune verskil. ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar’ (Efesiërs 4:2-3 NLV).
Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 23:26-34; Ps 54; Spr 21:18-21