Kom by die wortel van jou probleem uit
2021-09-25Efesiƫrs 3:17 NLV
Het jou ouers jou ongelief laat voel? Het jou maat jou verlaat? Is jy in die verlede fisies, seksueel, geestelik of emosioneel mishandel? Hierdie is pynlike ervarings. Dis noodsaaklik om die bron daarvan te ontdek, veral as dit ‘n wortel van verwerping is.
Jy kan allerhande tegnieke gebruik om jouself beter te laat voel, maar sonder ‘n wortelsisteem van ‘n gesonde selfbeeld, sal niks werk nie. Foutiewe wortels bring foutiewe vrugte voort: gevoelens van minderwaardigheid, waardeloosheid, woede, die onvermoĆ« om te vertrou en ‘n vrees vir intimiteit.
Hoe verander jy hierdie vrugte? Deur die wortel van die probleem aan te spreek. Hoe doen jy dit? ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in liefde gewortel en gegrondves wees’ (verse 16-17 NLV). Die versekering van God se liefde kan genesing vir jou emosies bring. Jy hoef nie meer jou sin van veiligheid en eiewaarde uit jou familie van herkoms te kry nie, want: ‘…ons is nou reeds kinders van God…’ (1 Johannes 3:2 NLV). Onthou egter dat dit ‘n proses is.
Sterk wortels het drie dinge nodig: 1) Tyd om te groei. Om vol vertroue in jou identiteit as God se kind te word, is soos om nuwe skoene in te loop. Jy moet met hulle loop totdat hulle gemaklik raak. 2) Beskerming van dinge wat dood kan maak. Omring jouself met mense wat jou opbou, eerder as mense wat jou afbreek; mense wat ‘dieselfde kosbare geloof’ (2 Petrus 1:1 NLV), as jy het. 3) Geestelike voeding. Leer om te bid en jouself gereeld uit God se Woord te voed (sien Job 23:12).
Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 23:13-25; Ps 52; Spr 21:17