Laat God se liefde jou vrees verdryf
2021-09-221 Johannes 4:18 NLV
Moderne wetenskap bevestig die waarheid van hierdie Skrifgedeelte: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’ Liefde en vrees is onversoenbaar; hulle kan nie gelyk bestaan nie. Kinders het twee basiese behoeftes: 1) ‘n Behoefte om hulle omgewing te verken. Dis hoe hulle leer, groei en ontwikkel. 2) ‘n Behoefte om veilig te voel. As hulle nie veilig voel nie, sal hulle nie hul omgewing verken nie.
Elke mens het ‘n veilige basis nodig van waar hulle kan ondersoek instel en groei. Navorsing bevestig dat, oor die algemeen, een ouer hulle kind meer sal aanmoedig om kanse en risiko’s te neem en hulle leer dat ‘n bietjie gevaar ‘n goeie ding is, terwyl die ander ouer gewoonlike die vertrooster en veiligheidsnet is. Die waarheid is egter dat enige ouer ‘n kind beide gawes kan gee.
Wanneer ons bang is, aktiveer ons liggaam sy simpatieke senuweestelsel. Ons harte begin vinniger klop, ons asem word korter en vlakker en ons spiere trek saam. Dus hardloop ons na ons nie-angstige teenwoordigheid toe: ons vertrooster, beskermer en ouer. Soos hulle ons vashou, neem die parasimpatiese stelsel oor. Ons hartklop neem af, ons asem word diep en egalig, ons spiere ontspan en bloed vloei terug na ons brein toe. ‘n Klein stemmetjie sê dan vir ons: ‘Ek kan weer uitgaan en die wêreld in die gesig staar.’
Dis ‘n feit dat volwasse liefde vrees in die fisiese ryk uitdryf. Dis ook waar in die geestelike ryk. Met ‘n God wat teer genoeg is om ons lief te hê en te vertroos, maar tog sterk genoeg is om ons rots en veilige vesting te wees, kan ons enigiets wat die lewe vir ons gee, oorkom en sterker as gevolg daarvan groei.
Sielskos: Hoogl 1-4; Luk 22:54-62; Ps 3; Spr 21:4-8