Beoefen selfbeheersing

2021-09-15
Romeine 6:12 DB

Paulys skryf: ‘…beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God!.. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ‘n houvas op julle kry… nie. Moenie dat ‘n enkele liggaamsdeel van julle ooit in diens van die sonde staan nie. Nee, gee julle lewens vir God, van kop tot tone… (verse 11-13 DB). As jy hom toelaat, sal jou liggaam jou van die pad laat afdwaal. Dis nie dat jou liggaam boos is nie, maar dit het sekere aptyte wat altyd gereed is om op eksterne stimuli te reageer, wat alles baie aantreklik en tydelik bevredigend is.

Chuck Swindoll skryf: ‘Die lewe op aarde is werklik niks meer as ‘n string oomblikke nie. Ek wil nie hê dat my getuienis vir Jesus Christus deur ‘n enkele oomblik wat ek aan my liggaam toegee, verpletter moet word nie. Ek wil nie hê dat een oomblik van woede of trots of begeerte ‘n skadu oor ‘n leeftyd van wandel met my Here gooi nie. Ek vrees inderwaarheid daardie moontlikheid. Ek wil daardie moontlikheid vrees. Sodra ek ophou om dit te vrees – is ek in ernstige gevaar.’

Hoe hanteer jy dus jou vleeslike begeertes? Die enigste manier om dit te doen, is om God se Woord jou gedragskode te maak en te weier om kompromieë aan te gaan. Jesus het gesê: ‘…As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie…’ (Matteus 16:24 ABA). Kyk elke dag vir ‘n geleentheid uit om jouself in ‘n klein area te ontsê. Jy sal verbaas wees hoe moeilik dit is! Die beloning kom egter later, wanneer jy nodig het om jouself in ‘n groot area in die lewe, waarvan daar baie meer afhang, te ontsê.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Luk 22:1-13; Ps 78:56-64; Spr 20:25