Wanneer dit lyk of ongeregtigheid seëvier

2021-09-08
Psalm 103:6 NLV

Toe O.J. Simpson van die moord op sy voormalige vrou, Nicole Brown, aangekla is, het die jurie hom onskuldig bevind. Nicole se ma het gehuil en gesê: ‘God, waar is U?’ Dis ‘n vraag wat ons vra wanneer die lewe soms onregverdig lyk.

Die Bybel antwoord ons vraag as volg: ‘Want God gaan elke daad beoordeel, ook wat jy in die geheim gedoen het, of dit goed is of kwaad’ (Prediker 12:14 NLV). Ons wil egter nou geregtigheid hê. Dus sukkel ons, ons bevraagteken en ons twyfel. Die Psalmdigter het dit ook gedoen’: ‘Hoe lank nog sal julle onregverdige beslissings vel en die goddeloses bevoordeel? …Verdedig die saak van die hulpelose en die behoeftige’ (Psalm 82:2-3 NLV).

Ons stoei met sulke vrae, omdat hulle nie maklike antwoorde het nie. Een-en-twintig Psalms later skryf Dawid, wat vergewe en herstel is nadat hy owerspel en moord gepleeg het, die volgende: ‘Die Here laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word… Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde. Hy sal ons nie voortdurend aankla, of vir altyd kwaad wees nie. Hy straf ons nie vir al ons sondes, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is’ (Psalm 103:6-14 NLV).

Dieselfde genade en barmhartigheid wat God teenoor jou bewys, bied Hy ook aan die een wat jou seergemaak het.

Sielskos: Eseg 31-33; Luk 20:20-26; Ps 27; Spr 20:5-6