Prioritiseer jou verhouding met God

2021-09-07
Genesis 39:2 NLV

Toelating tot sekere sosiale klubs hang van jou herkoms af: bloubloed, of blouboordjie. Dis hartseer dat sommige werkgewers en kerke dit ook doen. God doen dit egter nie.

Verbeel jou jy was Josef. Jy en jou sibbe het dieselfde pa gedeel, maar het vier verskillende ma’s gehad. Jou pa is al sy hele lewe lank ‘n swendelaar en almal is bewus daarvan. Die hele gemeenskap weet dat hy jou oom uit sy deel van die erfenis verkul het en toe agter sy ma se rokspante geskuil het, voor hy weggehardloop het sodat hy nie vermoor word nie. Jou grootoom het jou pa gefop om met jou ma se suster te trou, miskien deur jou pa so dronk gedurende die huweliksfees te maak dat hy nie geweet het met watter suster hy trou nie. Dit het jou pa egter nie getraak nie, hy het sommer toe met altwee getrou! Die vrou wat hy waarlik liefgehad het kon egter nie kinders kry nie, dus het hy by die kinderoppaser geslaap. Dit het hy so geniet dat hy sommer by die meeste van die kombuispersoneel ook begin slaap het.

Groot deure swaai egter aan klein skarniere en Josef se lewe word in een vers beskryf: ‘Die Here was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het…’ Hy het sukses ten spyte van sy familie se disfunksie en verraad behaal. Hy was suksesvol ten spyte van ‘n gelaster teen hom en dertien jaar se valse gevangenisstraf. Met God aan jou kant, kan jy ook jou wortels oorkom en sukses behaal. Dis hoekom die belangrikste ding wat jy kan doen is om jou verhouding met God te bou, te onderhou en te prioritiseer.

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58