Hoe om jou roeping te vind
2021-08-25Handelinge 13:2 NLV
Die Bybel sê: “‘n Keer toe hulle bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’ Na nog vas en gebed is hulle die hande opgelê en het die gemeente hulle weggestuur” (vers 2-3 NLV). Let drie dinge op:
1) Barnabas en Saulus was in die kerk toe God hulle geroep het. Die Heilige Gees praat met ons wanneer ons bymekaar kom om te bid, te lofprys en God se Woord te hoor. Een rede hoekom ons nie duidelike aanwysings vir ons lewens het nie, is omdat ons nie op die plek is waar God objektief deur sy Woord en subjektief deur sy Gees, met ons kan praat nie.
2) Hulle roeping is deur bewese leierskap bevestig. Die mense wat vir Saulus en Barnabas die hande opgelê het om hulle roeping te bevestig, was leiers wat die tyd geneem het om te bid, te vas en God se wil te soek. Sulke mense is ‘n gawe. Hulle sal jou raad gee, jou korrigeer en jou vertroos wanneer jy dit nodig het en God se wil vir jou bevestig.
3) God speel nie wegkruipertjie met sy wil vir jou lewe nie. God het Saulus en Barnabas op die naam geroep. Ja, Hy ken jou naam, waar jy woon en die omstandighede waarin jy jouself bevind. Gideon was besig om koring in ‘n parskuip te dors (om dit vir die Midianiete weg te steek) en Petrus was besig om vis te vang, toe God hulle geroep het.
Jou gebrek aan ervaring beperk God nie, omdat Hy nie gekwalifiseerdes roep nie, maar die geroeptes kwalifiseer. Wag dus op God en wanneer die tyd reg is, sal Hy jou roep.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Luk 17:11-19; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24