Wees vrygewig

2021-07-17
Deuteronomium 15:8 NLV

God het vir die Israeliete opdrag gegee: ‘As daar in een van die dorpe in die land… ‘n arm Israeliet is… Maak jou hand vir hom oop…’ (verse 7-8 NLV). Om te gee, is die hoogste vlak van lewe. Vrygewige mense fokus hulle tyd en inspanning op wat hulle vir ander mense kan gee, nie op wat hulle van hulle kan kry nie. Hoe meer jy gee, hoe beter sal jou lewensuitkyk ook word.

Baie mense verstaan nie hierdie konsep nie. Hulle dink dat die hoeveelheid wat jy besit, die hoeveelheid wat jy moet deel, bepaal. Dis nie wat jy het wat saak maak nie; dis wat jy doen met wat jy het wat saak maak. Om ander te dien is iets wat jy vandag kan begin doen. Of dit nou beteken dat jy meer tyd met jou familie deurbring, ‘n werknemer wat potensiaal toon mentor, of mense in jou kerk of gemeenskap help – dit gaan daaroor om jou eie begeertes eenkant toe te skuif om sodoende iemand anders te seën. Die Bybel sê: ‘Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes’ (Spreuke 31:9 DB).

Die enigste manier om ‘n houding van vrygewigheid te handhaaf, is om dit ‘n gewoonte te maak om jou tyd, aandag, geld en hulpbronne uit te deel. Dink oor dit wat jy reeds gee, wat jy gevra is om te gee, en wat jy graag sal wil gee. Jou redes om ‘n versoek vir finansiële hulp toe te ken of af te wys mag dalk geldig wees, maar is dit goddelik? Dink hoe dit voel wanneer jy gee en laat dit toe om jou te lei.

Sielskos: Hand 14-15; Luk 8:1-15; Ps 133; Spr 16:2