Visvanglesse (5)
2021-07-14Lukas 5:5 NLV
Les vyf: Staan op God se beloftes. Met hulle vorige visvangpoging, het die dissipels op hulle eie ervaring en vermoëns staatgemaak. Hierdie keer het hulle egter op Christus se belofte staatgemaak: ‘…Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (vers 4 NLV). Jesus het nie spesifiek gesê: ‘Petrus, as jy saam met My gaan visvang, belowe Ek dat jy ‘n groot vangs sal vang nie.’ Dit was nie nodig vir Hom om dit te sê nie, want Petrus het besef dat toe Christus vir hom sê om te gaan visvang, en toe vir hom presies sê waar om sy nette uit te gooi, was daar geen manier wat die nette leeg sou terugkom nie!
Wanneer jy God se teenwoordigheid in jou boot, God se plan in jou gedagtes en God se beloftes in jou hart ontvang, kan jy nie misluk nie. Miskien sê jy: ‘Dit klink alles goed en wel, maar jy ken nie my omstandighede nie.’ As jy deur jou omstandighede oorweldig voel, doen die volgende: Lees jou Bybel, vind ‘n spesifieke belofte van God en begin dit vir jouself opeis. Begin om van God te verwag om op te tree en jy sal vind dat sy belofte nuwe hoop in jou situasie sal meebring.
Net omdat jy nie jou probleem al opgelos het nie, beteken dit nie dat die oplossing nie bestaan nie. Met God, begin sukses dikwels op die punt van mislukking. Dis nadat jy heel nag jou nette uitgegooi het en niks gevang het nie, dat Hy intree. Die woord vir jou vandag is dus – moenie tou opgooi nie! Probeer weer. Doen dit hierdie keer met Jesus in jou boot; en Hy sal die wêreld se verskil maak.
Sielskos: Hand 8-9; Luk 7:11-23; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32