Visvanglesse (1)

2021-07-10
Lukas 5:3 NLV

Les een: Nooi Jesus aanboord jou boot. Dis altyd die beginpunt! Niks het ‘n groter invloed op jou persoonlike sukses as wanneer jy Jesus Christus in jou lewe het nie. Petrus het heelnag alleen op sy skuit probeer visvang, maar niks gevang nie. Toe hy egter vir Jesus aanboord bring, het hy meer vis as ooit tevore gevang.

Jesus het altyd sy wonderwerke gebruik om beginsels te illustreer. Hierdie insident leer jou dus wat om te doen wanneer jy misluk het, of wanneer jou beste nie goed genoeg is nie. Petrus se boot het sy lewensbestaan verteenwoordig. Wanneer jy ‘n visserman is, is jou boot jou besigheid! Dis beduidend dat Petrus vir Jesus in sy besigheid ingenooi het en dat Jesus dit as ‘n platform vir sy bediening gebruik het.

Is jy gewillig om te doen wat Petrus gedoen het? As jy is, sal die Here jou besigheid seën. Hy sal inderwaarheid alles wat jy vir Hom gee, seën. As jy jou hele lewe vir Hom gee, sal Hy alles daarvan seën. As jy egter net ‘n deel daarvan vir Hom gee, sal Hy net daardie een deel seën.

Wanneer jy Jesus in jou boot het, elimineer dit die vrees vir mislukking en verminder dit jou bekommernisse. Toe Petrus vir Jesus sy visvangvennoot gemaak het, was die resultate wonderbaarlik. Moet egter nie die volgorde miskyk nie. Eerstens, het Petrus sy boot vir Jesus se doelwitte gebruik. Toe het Jesus Petrus se boot geseën en dit gebruik om aan al Petrus se behoeftes te voldoen. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Het jy mooi gelees? ‘Al hierdie ander dinge.’

Sielskos: Hand 1:1-3:10; Luk 6:27-36; Ps 109:1-15; Spr 15:22