Moenie beterweterig wees nie
2021-07-08Spreuke 12:23 NLV
Sukkel jy om jouself daarvan te weerhou om ongevraagd raad te gee? Gebruik jy gereeld uitdrukkings soos: ‘Jy moet,’ of ‘Jy moenie’? Mense is geneig om iemand kwalik te neem wat altyd aanneem dat hulle weet wat die beste vir hulle lewens is. Selfs wanneer jy voel dat jy die reg verdien het om kommentaar op iemand anders se lewe te lewer, moet jy versigtig te werk gaan. Deur te sê: ‘Het jy dit oorweeg?’ sal makliker ontvang word as om vir iemand te sê: ‘Jy moet,’ of ‘Jy mag nie.’
Soos een skrywer opmerk: ‘Selfs wanneer jy kennis en insig in ‘n sekere situasie het, is dit soms verstandig om stil te bly en iemand anders die vreugde en vervulling te gee om dit te verduidelik.’ Om ‘n ‘kundige’ oor byna elke onderwerp te wees, is ‘n duidelike aanduiding van trots, wat afstootlik vir God en mense is. Selfs as jy briljant maar nederig is, kan jou teenwoordigheid diegene met ‘n lae selfbeeld ongemaklik en minderwaardig laat voel. Deur jou intellektuele meerderwaardigheid ten toon te stel, vervreem jy mense en veroorsaak jy dat hulle vir swakplekke soek om jou van jou troontjie af te stamp.
As jy geneig is om beterweterig te wees, is dit dalk nodig om jou siel eerlik te ondersoek. Is jou vertoon van kennis ‘n front vir onsekerheid? Verlang jy na aandag en waardering van ander, omdat jy dit nie by die bron kry van wie jy dit af soek nie?
Probeer die volgende: Luister aandagtig, vra vir idees, vermy dit om ander te korrigeer of te weerlê en beperk jou opinie tot een of twee punte. Mense geniet ‘n dialoog, nie ‘n monoloog nie, lewe dus volgens die volgende Skriftuurlike beginsel: “‘n Verstandige mens bly stil oor sy kennis…”
Sielskos: Jer 51-52; Luk 6:1-16; Ps 137; Spr 15:15-17