Dra geestelike vrugte (1)
2021-07-01Johannes 15:4 NLV
Jesus het gesê: ‘…my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het. Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie… Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte…’ (verse 1-5 NLV).
Wat wil God vandag van jou hê? Geestelike vrugte! Hy sal twee dinge doen om dit in jou lewe te produseer.
Eerstens, sal Hy vir jou die gewoontes, verhoudings en aktiwiteite wys wat dit onmoontlik vir jou maak om geestelike vrugte te dra en dan begin om dit af te sny. Hy kan dit egter net doen as jy Hom toelaat om dit te doen.
Tweedens, sal Hy vir jou die dinge wys wat jou geestelik dreineer en jou daarvan weerhou om meer vrugte te dra. Sy gunsteling snoeiskêr is sy Woord, wat ‘….skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg…’ (Hebreërs 4:12 NLV), is.
Soos jy God se Woord lees, sny Hy die slegte af sodat dit nie die goeie belemmer nie. Dan snoei Hy die goeie sodat dit nie die beste wegsteek nie. Dit verduidelik hoekom Hy toelaat dat ons moeilike tye in ons lewens ondervind. Soos een pastoor dit stel: ‘Moeilike tye mag dalk eenvoudig ‘n snoeiskêr in die hande van die goddelike Tuinier wees – gereedskap wat Hy gebruik om dooie hout en vrugtelose takke af te sny sodat ons meer vrugte kan dra.’
Sielskos: Jer 31-32; Luk 4:1-13; Ps 98; Spr 14:34