Hoe om meningsverskille te hanteer (2)

2021-06-24
Matteus 5:9 NLV

Les een: Soms is die beste oplossing vir konflik ‘n skeiding, selfs as dit net tydelik is. Wanneer emosies hoog loop, het jy spasie nodig om helder te dink. God kan hierdie tyd van skeiding tot sy verheerliking gebruik. Omdat Paulus en Barnabas se paaie geskei het, is die evangelie in meer stede gepreek. Wanneer ‘n tydelike skeiding egter die beste opsie is, moet julle saam besluit oor hoe lank dit gaan wees. In sommige vriendskappe mag een persoon dalk die verhouding ontgroei het. Dit moet egter met liefde en wysheid hanteer word, met die besef dat ons almal uit ons foute kan leer en deur hulle kan groei. Later het Paulus geskryf: ‘…Bring Markus saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees’ (2 Timoteus 4:11 NLV).

Les twee: Wanneer jy besef dat jy verkeerd was, moet jy dit erken. Vir ‘n enkellopende, gefokusde leier soos Paulus, het dit nederigheid geverg. Dis inderdaad ‘n vertroosting om te dink dat iemand so geseënd en briljant soos Paulus, weer sy situasie kon oorweeg en tot ‘n ander gevolgtrekking kon kom. Foute mag dalk sleg wees; maar hulle is nie so sleg soos die trots wat hulle wil verdedig en wil aanhou maak nie.

Les drie: Jy moet leer om te verskil, sonder om onaangenaam te wees. Dis opvallend dat ons nêrens in die Bybel vind dat Paulus in die publiek oor hulle meningsverskil gepraat het nie. Beide Paulus en Barnabas het op hulle onderskeie sendingsreise gefokus. Die enigste gedrag wat jy die mag het om te verander, is jou eie. Die volgende moet jou rede wees om dit te doen: ‘Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees…’ (Efesiërs 4:15 NLV).

Sielskos: Jer 10-13; Luk 2:21-33; Ps 17; Spr 14:13-16