Hoe om ons sonde te hanteer
2021-04-25Psalm 51:6 NLV
Ons het ‘n nuwe manier nodig om na sonde te kyk; om ‘n nuwe begrip daarvan te kry. John Ortberg skryf: ‘Alle sonde behels ontkenning. Dit dra ‘n sekere morele bysiendheid mee.’ Die enigste manier om dit duidelik te sien, is deur die oë van die Een teen wie ons gesondig het. Die psalmdigter het gebid: ‘Teen U, U alleen, het ek gesondig…’
‘n Christelike universiteitsprofessor stel dit so: ‘Ek is vriendelik met my studente; respekvol teenoor my kollegas; lief vir my familie; ek steel nie; pleeg nie owerspel nie; gebruik nie dwelms of vloek nie; en ek vlos gereeld. Maar wanneer ek eerlik na myself kyk, sien ek dat ek bitterheid herberg gee, my tyd opgaar en ander mense kwalik neem wanneer hulle my aandag opeis. Ek is ydel en word verteer deur hoe ander mense my sien. Ek stoei met my seksualiteit en het al met my oë en my hart oor die tou getrap. Ek gee voor asof ek luister, maar ek doen dit nie. Ek maak asof ek meer geestelik is as wat ek waarlik is. Ek is ‘n gemors – gebroke op elke manier – en my enigste hoop is God se genade.’
Toe Jesaja die Here op sy troon sien sit het, het hy uitgeroep: ‘Ellende het my getref! Want ek is ‘n sondige mens…’ (Jesaja 6:5 NLV). Toe het ‘n engel ‘n gloeiende kool van die altaar geneem, sy lippe daarmee aangeraak en gesê: “…’Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe'” (vers 7 NLV).
Maak nie saak hoe gereeld jy al geval het of hoe erg jy al misluk het nie, God reik vandag sy genade na jou toe uit en gee jou ‘n kans om oor te begin as jy gewillig is om dit te aanvaar.
Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33