Hoe om in God se seën te wandel (1)

2021-03-28
Jakobus 1:22 NLV

Jakobus skryf: ‘Doen wat God vir jou sê. Daar wag ‘n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie… Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ‘n man wat na homself in ‘n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is.

Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie… Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek’ (verse 22-25 DB). Hoekom is hierdie Skrifgedeelte betekenisvol? Omdat daar ‘n verskil is hoe mans en vrouens ‘n spieël gebruik.

Mans kyk oor die algemeen net gou in die spieël om die basiese gedoen te kry; terwyl vrouens oor die algemeen meer besorg is oor hoe hulle lyk en dikwels ‘n spieël in hulle handsakke dra om deur die dag seker te maak hulle voorkoms lyk nog versorg. Dit gaan egter nie oor die verskil hoe mans en vrouens spieëls gebruik nie. Nee, dit gaan daaroor dat jy nie ‘n paar gejaagde oomblikke met die Skrif moet deurbring voor jy by die deur uithardloop om jou dag te begin nie, maar dat jy oor die Skrif moet mediteer totdat dit jou gedagtes vernuwe en jou karakter na Jesus se beeld omvorm.

Soos jy die Skrif lees, hou die Heilige Gees ‘n spieël voor jou op sodat jy die nodige aanpassings kan maak. Om in God se seën te wandel, moet jy sorg vir die ‘doen,’ en Hy sal sorg vir die ‘seën.’

Sielskos: Ps 118:19-29; Matt 21:1-16